Vennootskap – Ouerskap – Mentorskap – Vriendskap

‘n Omvattende Jeugbediening bly maar altyd ‘n groot uitdaging binne die gemeente opset. As jeugleraar besef ek eerstens dat bedieninge aan kinder, jeug en jong volwassenes nooit losstaande van die ander gemeente bedieninge moet staan nie. Daar moet altyd gepoog word om intergenerasioneel te funksioneer, waar oud en jonk mekaar kan bedien.

Die “4 Skappe” is iets wat my nogals help indien ek wel vir ‘n oomblik sou in “ZOOM” op ons jongmense van geboorte af tot waar hulle hopelik nog in die omgewing is as jong volwassene.

Ons wil met al ons ouers ‘n sterk vennootskap vorm om te help met geloofsopvoeding. Hierdie  vennootskap begin gewoonlik by die doop of inseëning van ‘n kind. Blywende, lewenslange geloof word selde deur kerk programme aangeleer, maar eerder “aangesteek” deur ‘n leefstyl van geloof wat by die huis uitgeleef word, daarom moet ons as gemeente en ouers mekaar gereeld herinner aan hierdie reisende vennootskap.

Ons moet daarom ook fokus op ouerskap toerusting, huweliksnaweke, familiekampe, manne- vrouekonferensies ens. Die huis is die primêre plek vir geloofsvorming waar geloof geleef, getoets, gepraat, geoefen en uitgebou word. Hier moet die gemeente vir ouers/enkel ouers ensovoorts toerus en help in al die ontwikkelingsfases van hulle kinders.

Met ons jeug wil ons ‘n pad van mentorskap loop wat deur weeklikse kategese, kampe, uitreike en aanbiddings – geleenthede ondersteun word. By hierdie mentorskap reis moet daar gedroom word om ons gemeenskap te kan begelei in die verskillende lewensfases en oorgange van die lewe. Die reis behels waar daar gefokus word op identiteit en sosialisering. Die leerders moet dan verder begelei word in praktiese kennis en ervaring van: konflik hantering, identiteit, seksualiteit, waardes, emosionele vaardighede, rol verheldering, en meer. Die jongmense kan self geleenthede kry om nader aan ‘n fasiliterings rol te kom waar hulle diens kan doen op kampe ens. Ek het ‘n diep oortuiging dat mentorskap instrumenteel kan wees tot die transformasie wat elke kind in hierdie belangrike lewensfases nodig het.

Met ons jong volwassenes vorm ons ‘n vriendskap waar weeklikse byeenkomste gereël word vir studente en jong werkendes. Hulle kan dan ook dien as mentors vir ons jongmense, juis omdat hulle energievol en avontuurlustig is wat hou van uitdagings, uitreike ens. Hier word daar gepoog om gesonde vriendskappe te bou, sodat die sogenaamde “slowfade” nie gebeur na belydenisaflegging waar ons jongmense die kerk verlaat nie.

Ons as gemeente leiers se hartklop moet wees om ons jongmense mooi te begelei op hulle geloofspad op soeke na hulle identiteit en roeping in die lewe. As geestelike selfstandige jongmense begin ons kinders dan ‘n lewe wat Jesus navolg.

Pin It on Pinterest

Share This