Dit was die woorde wat ek die minste van gehou het as juffrou op skool vir ons storie gelees het.  Ek dink soms nog met groot heimweë terug aan storietyd in my kinderjare.

Wat was dit wat kinders so geboei het aan stories?

Was dit die vermoëns wat karakters besit het wat menslik gesproke nooit kan gebeur nie?   Of was dit die intrige om te bly wonder wat volgende gaan gebeur en hoe gaan hulle uit hierdie situasie kom?  Of was dit die ongelooflike vermoë van sommige karakters om net skielik uit die onmoontlikste situasies te ontsnap en die hele gebeure op sy kop te draai?

Dalk was dit iets van alles gewees.  Ek wonder soms nog daaroor.  Maar ek weet een ding… Stories het my gevorm.  Stories het my wêreld ingekleur en lewe gegee.  Stories het my gehelp om ook anders na die wêreld te kyk.  Om met hoop te kyk.  Om te weet dat ons ook maar in ons menslikheid die vermoë besit om dinge anders en beter te doen.

Ek was nog altyd en sal seker ook altyd die grootste aanhanger van superheld flieks wees.

Die onbeperkte krag van Superman, of die onophoudelike spoed van Flash of selfs die diepe vermoëns wat elke ander superheld het, dit is dinge wat my vandag nog geboei hou aan die verhale van karakters wat oneindige dinge kan vermag wat ek nooit sal kan vermag nie.

So terloops, die beste storieverteller van alle tye was Jesus.

Hy het 38 gelykenisse vertel wat in die Bybel behoue is en ek dink dat dit baie keer die rede was hoekom so baie mense Hom gevolg het.  Hy het die ongelooflike vermoë gehad om mense geboei te hou aan die verhaal van God se koninkryk deur alledaagse voorbeelde in stories te omskep.  Stories wat mense se wêrelde ingetrek het en mense aan nuwe werklikhede blootgestel het.

Kan jy jouself net indink dat ‘n Samaritaan ‘n Jood langs die pad kry, stukkend geslaan en gelos vir die dood, en dat hierdie Samaritaan hom oor die Jood ontferm?  Nooit gesien nie!!!  Samaritane en Jode het nie aan mekaar geraak nie, maar by Jesus was hierdie gedagte nie so onmoontlik nie.  Dink ook maar aan ‘n man wat 99 ander skape net so in die veld los om 1 te gaan soek.  En as hy die skaap kry vat hy die skaap huis toe, nie eers terug trop toe nie.  Mense sal nie so werk nie, maar God werk so.  God werk met elke verlore kind so.

Of hoe klink dit as ‘n koning een van sy amptenare se miljoene rande se skuld afskryf, omdat hy die amptenaar jammer kry?  Dit gebeur in Jesus se verhale!  En so kan ‘n mens aangaan en aangaan en na elke een van Sy gelykenisse kyk.  Die boodskap agter elke een het vir mense in nuwe hoopvolle  werklikhede ingetrek om hulle te wys dat hulle anders kan leef as wat hulle tot nou toe geleef het.

Ek dink vandag anders oor die bediening as toe ek geleer is.  Ek dink die mees suksesvolle jeugbedienings lê nie in die getalle van jongmense wat opdaag nie, maar in die vermoë van aanbieders en jeugwerkers om die verhale van die Bybel vars en nuut te vertel op ‘n manier wat jongmense nuut uitdaag om die wêreld om hulle anders te sien en anders te ‘engage’.

Hierdie idee is nie nuut nie.  Max Lucado het ‘n paar jaar gelede ‘n boekie geskryf getiteld ‘The Story’ waarin hy die verhale van die Bybel oor vertel en nuwe baadjies gee.

Fulton Oursler het ‘n boek geskryf getiteld ‘The Greatest Story Ever Told’.  Hierdie boekie het reeds al in 1913 op die rakke verskyn.  Hy vertel die verhaal van Jesus.  Ons het die wonderlikste gebeure van alle tye tot ons beskikking nl. die opstanding uit die dood, maar ons het verleer om dit kreatief, passievol en met hernude toewyding oor te vertel.

Ek het ‘n ruk gelede Leonard Sweet se boek ‘From Tablet to Table’ onder oë gehad en hy het die belangrikheid van geloofsverhale rondom die etenstafel beklemtoon en hoe jongmense se identiteit eintlik rondom die gesinstafel gevorm word deur die verhale wat ons met mekaar deel.

Dalk moet ons minder teologies preek en meer verhalend.  Ek beroem my nou glad nie op die terrein van Homiletiek nie, maar ek dink wel dat ons geleer is om te preek op ‘n sekere styl vir ‘n Kerk wat lankal nie meer bestaan nie.

Ons moet weer dromers word.  Ons moet weer storie vertellers word wat sterre in kinders se oë kan los en hulle met bewondering vir die grootheid van God kan laat en hulle kan vasboei aan die grootheid van ons Here wat vasgevang word in Sy Seun wat mens kom word het en saam met ons kom loop het.

Dis ‘n storie om te vertel…  Dis ‘n storie om oor te vertel…  Dis ‘n storie om nuut te vertel…

Die beste van alles…  Ons storie het werklik gebeur!

Fluit, fluit, my storie is ‘great’…!

Pin It on Pinterest

Share This